OP, Boland gee pas in in o.21 B-afdeling
September 09, 2013
Die OP Kings en Regent Boland Kavaliers is steeds die pasaangeërs in die Absa Onder-21 Provinsiale Kampioenskappe se B-afdeling na albei afgelope naweek goeie oorwinnings behaal het.

Die Boland het die Valke met 69-8 afgeslag en die OP het te veel skietgoed vir die SWD Arende gehad en met 76-16 gewen.

In Port Elizabeth het die tuisspan 12 drieë gedruk en een afgestaan, terwyl die Bolanders in Kempton Park 11 keer agter die Valke se doellyn was.

In Welkom het die Limpopo Blou Bulle sewe drieë gedruk op pad na ‘n 41-20 sege oor die Down Touch Griffons.

Daar was ‘n taai kragmeting in Nelspruit, waar GWK Griekwas eers kort voor die einde van sy wedstryd teen die Steval Pumas in die Mbombela Stadion sy sege kon verseker.

Die eindtelling was 24-20 in die besoekers se guns.

Die Pumas was nog 20-14 voor met 10 minute oor, maar ‘n doel en strafdoel deur Griekwas het die skaal Kimberley toe geswaai.

•Die Valke is die enigste onoorwonne span in die Absa Onder-19 Provinsiale Kampioenskap se B-afdeling na’n puik sege oor die Boland Kavaliers afgelope naweek.

Die 41-24 oorwinning maak dit vier uit vier vir die span van die Oos-Rand en Boland se eerste nederlaag vanjaar.

Dit was ook die vierde agtereenvolgende keer dat die rooi truie ‘n bonuspunt vir drieë gekry het. Die span se 24 drieë is ook die meeste tot dusver in die kompetisie.

In ander wedstryde het die OP Kings teen die SWD Arende vasgeval, die Steval Pumas is steeds wenloos na hul wedstryd teen GWK Griekwas en in 11 drieë riller het die Down Touch Griffons die besoekende Limpopo Blou Bulle met 40-38 geklop.

Die uitslae was:

Valke 41 (20), Regent Boland Kavaliers 24 (19).
OP Kings 10 (0), SWD Arende 35 (6).
Steval Pumas 20 (13), GWK Griekwas 31 (17)
Down Touch Griffons 40 (18), Limpopo Blou Bulls 38 (19).

•For full results, logs and points scorers in the competition, please go to the results section of the website.