Kings onoorwonne, Griekwas val vas
September 17, 2012
Die Oostelike Provinsie Kings stoom voort in Absa se Onder-21 reeks (Eerste Liga), maar met GWK Griekwas gaan dit minder goed nadat die span sy tweede agtereenvolgende nederlaag gely het.

Die Kings was veels te vaardig en te vinnig vir die Griffons in Port Elizabeth en met met 73-3 gewen. Die span het elf drieë in die proses gedruk en veral in die tweede helfte die krane oopgedraai deur 47 onbeantwoorde punte aan te teken.

Yamkela Ngam met ‘n driekuns en Scott van Breda met 28 punte (nege doelskoppe en twee drieë) was die vernaamste puntemakers in die sege wat die span steeds onoorwonne na vier wedstryde laat.

Griekwas het in Kimberley met 38-36 teen die Valke verloor. Die tuisspan was 33-14 voor met rustyd, maar kon nie end-uit volhou teen die besoekers se eindpoging nie. ‘n Drie deur Nico Goosen, verdoel deur Rudi Smith, het die Valke, wat in daardie stadium met net 14 spelers gespeel het na ‘n rooikaart teen Willem Engelbrecht, die sege gegee.

Regent Boland Kavaliers en SWD het elk nog net een sege gehad voor die afskop van hulle wedstryd in Wellington, met die Arende wat sy wenstatus kon verdubbel deur 39-13 te wen. Die besoekers het vyf drieë teen een gedruk en sal tevrede voel met sy tweede sege in soveel weke.

•Die volledige puntelyste, puntemakers en verloop van bogenoemde wedstryde is onder die uitslae elders op die webwerf beskikbaar.